Thursday 24 April 2014
Home / News / Man sterf gru-dood by berugte kruising

SASOLBURG. - ‘n Man het ‘n gru-dood gesterf na die soveelste ongeluk by die uiters gevaarlike R59/DF Malan-kruising in Sasolburg.
Donderdagoggend skuins na nege uur was daar ‘n ongeluk tussen ‘n Ford Ranger-bakkie en ‘n trok by hierdie kruising. Dieselfe kruising is byna elke week in die nuus omdat daar so baie ongelukke plaasvind. Vaalweekblad het verlede week berig oor mev. Rosemary Anderson van Stonehaven-on-Vaal wat ook hier in ‘n ongeluk betrokke was.
In Donderdagoggend se ongeluk het die bakkie die slegste daarvan afgekom. Dit het op sy passasierskant tot stilstand gekom oor die middelman van die pad. Die bestuurder van die bakkie, mnr. J.G. Loots (junior), is deur Vaal Emergency Care vir skok, harsingskudding en ‘n snywond aan sy agterkop behandel en na Emfuleni Mediclinic geneem vir verdere behandeling.
Die drywer van die trok is slegs vir skok behandel. ‘n Derde persoon, ‘n man wat agter op die bakkie gesit het, was nie so gelukkig nie en het sy lewe in die ongeluk verloor. Hy het tydens die slag van die ongeluk van die bakkie afgeval en het onder die trok se wiele beland. Paramediese personeel van Vaal Emergency Care het hom op die toneel dood verklaar. Die polisie ondersoek die saak.
Dit is die tweede groot ongeluk in ‘n week se tyd by hierdie kruising en die soveelste een hier­die jaar. ‘n Petisie en aksie-groepe het al talle voorstelle ingedien oor hierdie kruising, maar steeds is die owerhede wat verantwoordelik is vir hierdie pad, uiters traag om iets hieromtrent te doen. Weeklikse ongelukke en talle sterftes hierdie jaar by die kruising het darem nou al veroorsaak dat daar n telapparaat op die pad aangebring is, maar dit help veel want elke week is daar nog ‘n ongeluk. “Die verskoning is gewoonlik dat daar nie geld in die begroting is om ‘n brug of sirkel hier te bou nie, maar hoeveel is ‘n mens se lewe dan nou regtig werd? Hoeveel moet sterf voor dit die geld regverdig?”, het ‘n omstander wat verkies om anoniem te bly, gesê.

  COMMENTS 
 
top
OUR LATEST ISSUE

top
bottom