Friday 19 December 2014
Sport / Beeld-trofee wink vir Valia

VANDERBIJLPARK. - ’n Tweede helfte om op trots te wees.

Dít het Saterdag op die Isak Steyl-stadion die eerste rugbyspan van die Hoërskool Transvalia gered om sy verlore seun - die Valke grootskole-titel - terug te verwelkom. Hy het Hugenote uiteindelik met 32-14 in die eindstryd van die Valke se liga om die Beeld-trofee geklop om tot die kwarteindronde om die Beeld-trofee deur te dring.

Maar dié vertoning was alles behalwe perfek. Die spel wat Transvalia in die eerste helfte opgelewer het, is genoeg om van nagmerries te kry.Valia het rustyd met 7-0 agtergeloop, maar ses drieë in die tweede helfte het die kastaiings uit die vuur gekrap.

Hoewel Hugenote eervolle vermelding vir sy onverskrokke verdediging verdien, sal Valia se korrelwerk pale toe strate moet verbeter.

Ter versagting - die wind en die ligter Gilbert-bal het ’n invloed gehad maar om 18 punte met die skoen te verbrou, is op enige vlak onaanvaarbaar.

“Ons sal vandeesweek hard aan ons skopwerk moet werk. Hugenote is ’n baie goeie span. Hulle het puik in die eerste helfte verdedig. Maar ons fiksheid het in die tweede helfte ingeskop,” het Jaco Kok, afrigter van Transvalia se eerste rugbyspan, na dié sege gesê.

Dié sege was nektar van die gode aangesien die einste Hugenote verlede jaar vir Valia in die halfeindronde uitgeskakel het. In die eerste 35 minute het Valia gesukkel om enige momentum te bewerkstellig.

Te veel 50/50-aangee en oorgretigheid het die span se harde werk op kritieke tye ongedaan gemaak.

“Die spelers het té hard probeer. Ek het rustyd vir hulle gesê om te kalmeer en by ons wedstrydplan en struktuur te bly. Daarna het ons fisiekheid en kondisionering die wedstryd vir ons gewen,” het Kok gesê.

Hoewel die Vanderbijlparkers met ’n vyftienman-aanslag op dié swaar speeloppervlak vorendag gekom het, verdien twee ystermanne ’n klop op die skouer.

Die losskakel Dudley Thompson was ’n rugby-generaal, terwyl die Valia-flank, Jeandré Swanepoel, ’n barshou voorlangs gespeel het.

Voortaan sal die manne in Ligblou op sy ondersteunings-basis se knoppie kan druk, aangesien die Noordvaal-hoërskolevereniging se prioriteitslys in die Valke se guns is.

Indien Valia oor twee weke in die kwarteindronde sy segetog voortsit, sal daar baie minder duwweltjies op die pad gesaai lê, aangesien elke oorwinning ’n “tuis” kragmeting sal verseker.

Die manne van die Vaal sal eerskomende Saterdag weet of hy teen Linden of Klerksdorp in die kwarteindronde sal speel.

Transvalia se o.15-span het Hugenote in die doodsnikke van hul eindstryd met 17-15 geklop om die enigste ander Vaaldriehoekse span te word om tot die uitspeelfase van die Beeld-trofee deur te dring.

Puntemakers:

Transvalia 32 (0): Drieë: Dudley Thompson, Marco van Vuuren, Johann Grundlingh, Marnus Erasmus, Danie Jansen van Vuuren en Jeandré Swanepoel. Hugenote 14 (7).

Beeld-trofee uitslae: Valke-eindstryde: Makro-skole: Eerste spanne: EG Jansen 26, Kempton Park 17. o.15: EG Jansen 29, Vereeniging Gimnasium 10.

Groot skole: Eerste spanne: Transvalia 32, Hugenote 14. o.16: Hugenote 20, Heidelberg Volkskool 5. o.15: Transvalia 17, Hugenote 15. o.14: Hugenote 24, Transvalia 12. Medium skole: o.15: Oosterlig 5, Hoërskool Sasolburg 5 (Oosterlig wen). o.14: Oosterlig 32, Overvaal 5.

  COMMENTS 
 
top
OUR LATEST ISSUE & BACK COPIES

top
HAVE YOUR SAY Suggest future poll
President Square
Did you attend the President Square opening?
Yes
No
top
bottom