Tuisblad Hoofartikel
Hoofartikels
- Wet aan verbruiker se kant PDF Print E-mail
Friday, 03 September 2010 15:07
Retha Fitchat
Die gehalte van diens wat talle Suid-Afrikaanse sakeondernemings en die openbare sektor aan die betalende publiek lewer, kom gereeld onder skoot. Maar kry ons nie dalk swak diens omdat ons nie weet wat ons regte as verbruikers is, of hoe om goeie diens af te dwing nie?
Suid-Afrikaners het tot dusver in 'n tydvak gelewe wat deur kenners as verbruikers se "donker eeue" bestempel kan word. Hoeveel van ons het nie al 'n duur prys betaal weens misleidende en onduidelike kontrakte nie? Hoeveel van ons is al deur diensverskaffers se onvermoë om 'n kontrak te kanselleer, in 'n taai web vasgevang waaruit jy jou net met 'n uitgerekte en spanningsvolle geveg kon loswikkel? In sommige gevalle help selfs d¡t nie eens nie en moet 'n mens maar opdok en jou verlies as 'n onaangename leerskool aanvaar.
Hoewel die Vaaldriehoek kan spog met honderde hoëgehalte sakeondernemings wat uitstekende diens lewer, bewys die talle verbruikersklagtes wat Vaalweekblad gereeld ontvang, dat hier ongelukkig ook besighede is wat hulle aan uiters immorele sakepraktyke skuldig maak. Boonop was wetgewing tot dusver nie juis aan die kant van die verbruiker nie.
Gelukkig is daar nou lig aan die einde van die tonnel: 'n Wet wat beoog om verbruikers te beskerm, die Consumer Protection Act, tree op 24 Oktober in werking. Vir die eerste keer gaan verbruikers nou spiere kan bult teen gewetenlose sakelui wat opsetlik of weens 'n dawerende onvermoë, in gebreke bly om die diens te lewer waarvoor ons hulle betaal.
Die hoofdoel van die wet is om verbruikers te beskerm en om hul sosiale en ekonomiese welsyn te bevorder. Sakeondernemings met integriteit, wat 'n hoë premie op uitstekende diens plaas, het niks te vrees nie, maar vir uitbuiter-sakeskobbejakke lê daar 'n paar welverdiende piesangskille voor.
Die wet, waaroor Vaalweekblad hierdie week op bl. 14 berig, gaan ongetwyfeld groot implikasies vir sakeondernemings en alle diensverskaffers hê. Neem gerus die inligting wat deur 'n verbruikerskenner verskaf word, ter harte.
Ons gebied se mense het weens hartelose ondernemings en individue soos Marietjie Prinsloo en haar Krion-piramide, miljoene der miljoene rand verloor.
Gewapen met die nodige inligting, hoef dit nooit weer te gebeur dat enigiemand se swaarverdiende salaris of neseier weggesteel word met vals beloftes of vangstrikke in vae kontrakte nie. Ons kan nou opstaan en veg vir wat ons eie is.
 
- Optrede is barbaars en immoreel PDF Print E-mail
Friday, 27 August 2010 14:14
Retha Fitchat
Die wêreld se arbeidsgeskiedenis het bewys dat vakbonde 'n uiters noodsaaklike rol speel om werkers teen hartelose werkgewers te beskerm. Om te staak is 'n betekenisvolle stuk gereedskap in vakbondlede se hande, maar dit behoort net as laaste uitweg gebruik te word.
Natuurlik het staatsdienswerkers - soos mediese personeel, onderwysers en munisipale amptenare - die reg om op 'n verantwoordelike wyse te staak as hulle werklik onbillik behandel word. Maar is hul vergoedingsituasie regtig so benard?
Talle Vaaldriehoekse werknemers in die privaatsektor moes die afgelope twee jaar met minimale verhogings van 2% of 3% klaarkom. Sommige plaaslike werknemers in die privaatsektor rapporteer aan Vaalweekblad dat hulle die afgelope drie jaar géén vehoging gekry het nie en net te dankbaar is om nog 'n werk in die heersende ekonomiese krisis te hê.
In die lig hiervan klink die regering se aanvanklike aanbod van 'n 7% verhoging en 'n R700 huissubsidie glad nie onbillik nie. Die stakers het egter 'n verhoging van 8.6% en 'n huistoelaag van R1 000 geëis - heelwat hoër as die huidige inflasiekoers.
Teen Vaalweekblad se spertyd was dit nog nie seker of die vakbonde die regering se jongste aanbod van 8.5% sou aanvaar nie - waarskynlik wel. Die vakbonde kan breed glimlag want hulle het weer eens daarin geslaag om die staat en die belastingbetalende publiek met intimidasie, geweld en immorele gedrag af te pers om hul sin te kry.
Iemand gaan betáál om te verseker dat die fiskus 'n hoër inkomste kry sodat die Staat die buitensporige verhogings kan bekostig. Daardie iemand is die land se sakesektor en die man op straat, wat by wyse van verhoogde belastings die amptenare se hoër salarisse sal moet betaal.
Net soos wat die totstandkoming van vakbonde 'n noodsaaklikheid was om werkers teen hartelose werkgewers te beskerm, net so behoort belastingbetalers 'n front te hê wat die pubiek teen stakers wat hul mag misbruik, te beskerm. Hopelik kan arbeidskenners met so 'n plan vorendag kom want die belastingbetalende publiek kan nie onbepaald slagoffers wees van vakbondlede wat ons onderwysstelsel lamlê en siekes laat sterf terwyl hulle toyi-toyi vir buitensporige salarisaanpassings nie.
Die totstandkoming van vakbonde het 'n meer menslike era in die wêreld se arbeidsgeskiedenis ingelei, maar die manier waarop vakbondlede deesdae hul kollektiewe mag misbruik, kan net as barbaars, immoreel en krimineel bestempel word.
 
- 18 Augustus PDF Print E-mail
Thursday, 19 August 2010 15:39

Retha Fitchat
Die beplande storting van gebruikte mynwater in die Vaalrivier en Barrage-gebied het onlangs die Vaaldriehoek se omgewingsbewustes in hul spore laat vassteek. En nog is dit het einde niet.
Hierdie week is inwoners en omgewingsorganisasies se bloeddruk opnuut opgejaag met berigte oor die skynbaar blatante besoedeling van plaaslike waterbronne deur menslike en dierlike ontlasting. Dan is daar ook sprake dat 'n spruit wat by Parys in die Vaalrivier inloop, glo deur bloed vanaf slagpale in die dorp, besoedel word.
Wanneer gaan ons mensdom leer dat riviere nie 'n selfherstellende rommelterrein is nie? Die natuur het 'n beperkte vermoë om homself te heel, maar teen die tempo wat ons omgewing tans besoedel word, word die natuur eenvoudig nie 'n geleentheid gegun om homself te genees van die mens se onverskilligheid nie. Vaaldriehoekers gaan nog 'n duur prys hiervoor betaal.
Gedurende die begrotingstoespraak in April het die departement van water en omgewingsake bekendgemaak dat die bewaring van ons land se waterbronne prioriteitaandag gaan kry. Min het tot dusver van dié belofte gekom.
Die adjunk-minister van water- en omgewingsake, Rejoice Mabudafhasi, se aankondiging van haar Adopt a River-projek enkele dae gelede, gee 'n mens hoop dat die regering nog nie die belofte vergeet het nie, maar terselfdertyd wonder mens of plaaslike rade ooit kennis neem van die regering se edel ondernemings en ideale.
Die R1.7 miljoen wat vir die projek begroot is om mense in landelike omgewings in te lig oor die rol wat hulle kan speel om waterbesoedeling te voorkom, is eintlik net 'n druppel aan die emmer as jy in ag neem hoe groot die nood is en hoe erg die agteruitgang van ons land se riviere reeds is.
Ons waterbronne gaan nie gered word deur 'n eenmalige, kortstondige projek om 'n klein groepie mense bewus te maak van die gevare van waterbesoedeling nie.
Dit is nie net die algemene publiek en groot nywerhede wat moet inkoop om ons riviere te help red nie. Dit is veral stadsrade wat die afgelope jare weens laksheid of korrupsie hul oë gesluit het vir blatante oortreders, wat hulle opnuut sal moet verbind om met mening op te tree teen enigiemand wat ons riviere ten koste van ons almal en ons nageslag bevuil.
In hierdie stadium lyk dit ongelukkig of aggressiewe hofstappe teen stadsrade meer vrugte afwerp as die sagtehand-benadering van idealistiese bewusmakingsveldtogte.

 

 
- Residents can claim for damages PDF Print E-mail
Friday, 13 August 2010 13:34

Retha Fitchat
Numerous desperate residents of Emfuleni requested Vaalweekblad to let them know how to lodge damages claims against the Council of the Emfuleni Local Municipality, ELM.
This follows damage sustained by vehicles that traverse potholes, complaints about non-working street lighting, accidents caused by motorists veering to avoid potholes, damages to pop-up garden sprays used to water sidewalks in front of houses, etc.
According to DA chief whip Jaco Karsten, claims should be lodged with the ELM Financial Department which has its own insurance wing. This wing assesses a claim and, if approved, it is forwarded to the Claims Department.
Local authorities are liable for damages claims caused by failure to maintain municipal structures including roads, lights, etc.
Failure of a local authority to compensate a ratepayer due to claims of poverty could result in a court's order of execution against a council, but what form such execution would take might vary between councils. A private individual stands to have property and possessions attached.
Councillor Karsten points out that damages claims against municipalities have been successful in the past and stresses that a local authority is legally liable.

Openheid moet wagwoord wees

Dit is te verstane dat gerugte van verdere posbesnoeiings by Sasol groot angs en onsekerheid by Sasolburgers veroorsaak. Om di‚ rede word dit verwelkom dat Sasol oop kaarte met sy werkers speel en presies verduidelik wat die planne vorentoe is.
Nothemba Noruwana, woordvoerder van Sasol, het Vaalweekblad die versekering gegee dat geen afdankings in die huidige fase van die optimaliseringsproses sal plaasvind nie. Vermindering van poste is wel 'n doelwit en werknemers wat hierdeur geraak word, sal die geleentheid kry om aansoek te doen vir vrywillige afdanking of vroeë aftrede. In gevalle waar poste oorbodig verklaar word, sal alles moontlik gedoen word om sulke werknemers in ander vakatures aan te stel. Die moratorium op eksterne aanstellings bly ook nog van krag.
Vaalweekblad glo dat Sasol die noodsaaklik veranderinge op 'n uiters sensitiewe en deursigtige manier sal bestuur.

 
- Valies is wakker oor water PDF Print E-mail
Sunday, 08 August 2010 19:47
Retha Fitchat
Dit was nie net omgewingsbewaarders wat die afgelope twee weke regop gesit het oor nuus dat die mynreus Anglo dit oorweeg om gebruikte mynwater in die Vaalrivierstelsel, insluitend die Barrage, uit te laat nie.
"Gewone" inwoners van die Vaaldriehoek is net so besorgd oor die moontlikheid dat ons aan water met 'n besonder hoë sout- en swaar metale-inhoud blootgestel gaan word. Weens die hoër as normale vlakke van lug- en waterbesoedeling waaraan Vaaldriehoekers al ses dekades weens die nywerheidsaktiwiteite in ons gebied blootgestel is, het ons reeds meer as ons deel gehad. Geen Vaaldriehoeker wil hul kinders en hul eie gesondheid verder in gevaar stel met voortgesette waterbesoedeling nie.
Die eerste gerugte oor die beoogde storting van besoedelde water het gekom toe mnr. Pranill Ramchander van Anglo Coal in die nasionale media aangehaal is dat die myngroep dit oorweeg om ses maande lank daagliks 20 miljoen liter gebruikte water in die Vaalrivier vry te laat. Hoewel Ramchander glo gesê het dat dit 'n "minimale effek" op die rivier se eko-stelsel sou hê, het rooi ligte onmiddellik begin flikker vir almal wat van die rivier afhanklik is vir drinkwater, besproeiing, watersport en toerisme.
Eienaars van Vaaldriehoekse riviereiendomme sowel as die omgewingdrukgroep SAVE was onmiddellik gereed vir die geveg - en met reg ook. As die potensieel geaffekteerde publiek nie op hul regte staan voordat met so 'n opsetlike besoedeling begin word nie, is dit agterna baie moeilik om die proses en gepaardgaande skade om te keer.
Gelukkig lyk dit asof Vaaldriehoekers se tydige (en baie heftige) besware Anglo Coal vir die oomblik van hul voorneme laat afsien het om die New Vaal-myn se oorskotwater in die Vaal/Barrage-stelsel uit te laat, maar dit blyk dat 'n finale oplossing nog nie gevind is nie.
Mnr. Norman Mbazima, uitvoerende hoofbestuurder van Anglo American Thermal Coal, het hierdie week die versekering gegee dat die onderneming met die grootste omsigtigheid en verantwoordelikheid te werk sal gaan en geen mens of dier se gesondheid in gevaar sal stel nie. Anglo kan verseker wees Vaaldriehoekers gaan die verdere verloop van die saak met arendsoë dophou en ons spiere genadeloos bult as ons grondwetlike reg op skoon water misken word.
 
<< Start < Prev 1 2 3 4 5 Next > End >>

Page 1 of 5