|
Friday, 05 February 2010 08:34 |
|
Jacques Steenkamp VANDERBIJLPARK. – ‘n Bekende en jarelange lid van die Vanderbijlparkse polisie is Sondagoggend omstreeks 08:00 in sy bed dood aangetref. Gerugte dat kapt. Eugene Kleynhans (46) selfmoord gepleeg het, word as onwaar deur sy familie en vriende afgemaak. Die presiese oorsaak van sy dood sal later die week na sy lykskouing bekendgemaak word.
“Eugene was ‘n saggeaarde en spontane mens wat altyd iets gehad het om te sê. Hy het gelewe vir die polisie en was baie trots daarop dat hy die rang van kaptein verwerf het,” sê mev. Yvonne Hartzenberg (68), sy ma. Kleynhans, wat op medikasie was, het glo Saterdagaand saam met twee vriende gekuier waarna almal by sy woonstel oorgeslaap het. Die twee mans sê dat hulle hom Sondagoggend nie wakker kon kry nie en die nooddienste en sy familie ontbied het. Die bewering dat hy selfmoord gepleeg het, het glo ontstaan omdat verskeie pilhouers en leë drankbottels langs sy bed gevind is. Sy familie sê egter dat hy nooit sy eie lewe sou neem nie, maar dat hy ‘n tyd gelede ‘n beroerte gehad het wat dalk nou sy lewe geëis het. Hy is vermoedelik in die vroeë ure van die nag reeds in sy slaap oorlede en is op die toneel dood verklaar. Kleynhans was sowat 27 jaar ‘n lid van die SAPD en was vir die grootste deel van sy loopbaan by die Vanderbijlpark-polisiestasie gestasioneer. Hy is in 2002 na die rang van kaptein bevorder. Volgens insp. Kinnie Steyn, ‘n polisiewoordvoerder, was Kleynhans ‘n baie hardwerkende en geliefde beampte. Insp. Steyn het namens dir. Zodwa Molefe, die bevelvoerder van die Vanderbijlpark-polisie sowel as Kleynhans se kollegas, simpatie teenoor sy familie uitgespreek. "Ons gaan hom baie mis,” sê Steyn. Kleynhans was nooit getroud nie en word oorleef deur sy ma, sy broers, George (45) en Johan (42), en sy susters, Lynette (45) en Anna-marie (40). Die Vanderbijlpark-polisie doen ‘n geregtelike doodsondersoek. Begrafnisreëlings was teen druktyd nog nie bekend nie, maar volgens sy familie was dit altyd sy wens om eendag militêr begrawe te word. |
|
Last Updated ( Tuesday, 16 February 2010 16:13 )
|