| - 'Eina hulle byt' |
|
| Friday, 05 March 2010 15:06 |
|
Yvonne Müller MEYERTON. - Skelms se doppie is onlangs in Meyerton deur die mees onwaarskynlike misdaadbevegters denkbaar geklink. 'n Miernes het 'n verdagte kardief in sy wegkruipplek ontbloot!Dit het gevolg nadat 'n insleepdiens na 'n ongeluk ontbied is waarin 'n paar booswigte betrokke was. Mnr. Riaan Potgieter, die eienaar van 'n plaaslike wegsleepdiens, Riaan's Towing Service, was verlede naweek aan diens en het 'n besige naweek gehad.Hy het die oggend omtreeks 1:30 'n Mazda Mitch uit 'n vlei net buite Rothdene gaan uitsleep, nadat dit neus eerste in die modder ingeplons het. Daar was vier insittendes in die voertuig.Later die oggend is hy na 'n ongelukstoneel naby Uitbreiding Ses. Terwyl Riaan doening was by die ongelukstoneel, het hy opgemerk dat 'n kar, soortgelyk aan die een wat hy uit die vlei gesleep het, verbyry. Dit was vir hom vreemd dat die Mazda Mitch 'n tweede voertuig, 'n Husky, getou het.Nie lank na die verdagte voertuie by hom verby is nie, is hy in kennis gestel van nog 'n ongeluk naby De Deur op die Weilbach-pad en is toe ook na dié toneel.Daar aangekom, het hy gesien dit dit die einste Mazda wat hy uit die vlei gesleep het en wat 'n kort rukkie tevore by hom verby is.Die Mazda het in 'n paal vasgery en die voertuig wat gesleep is, het die motor toe van agter getref.Tot Riaan se verbasing het die eienaar van die Husky op die toneel opgedaag en gesê dat sy motor kort voor die ongeluk gesteel is. Die polisie was reeds op die toneel. Twee van die vier skurke het die daarin geslaag en 'n derde is op die toneel aangekeer. Die vierde verdagte het egter tussen neus en oë "verdwyn".Terwyl die polisie met hul ondersoek besig was, het hulle skielik 'n geskreeu van onder die voertuig gehoor."Eina, eina hulle byt," het die stem uit die donker geroep. Onder die Husky het die polisie en Riaan die vierde verdagte ontdek. Sy wegkruipplek moes hy met 'n miernes deel, en die miere het hom glad nie laat welkom voel nie. Hy is so deur die inwoners van die miernes gebyt dat hy nie langer kon stilbly nie. Daar is 'n sterk vermoede dat albei voertuie gesteel was maar dit kon teen Vaalweekblad se saktyd nog nie bevestig word nie. Die polisie hoop om binnekort verdere arrestasies te maak. |
| Last Updated ( Friday, 12 March 2010 16:04 ) |